Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan. Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die klank van die ramshoring ingebring (2 Samuel 6:14-15).
Anders as wat baie dink, móét godsdiens tog ‘n saak van vreugde wees.
Hoe duidelik sien ons dit nie in 2 Samuel 6 nie, ook bekend as die arkverhaal.
In oud-Israel was die ark, in die woorde van TW Cartledge, ‘n skat van ongekende heiligheid, ‘n sigbare teken van God se teenwoordigheid en heerskappy, van sy belofte om altyd by hulle te wees. En daarom was dit so ‘n vreugdevolle gebeurtenis, dié dag toe die ark ná jare in Filistynse besit na Jerusalem toe teruggebring is.
Vir Israel was die terugkeer van die ark die begin van ‘n totaal nuwe en bevrydende lewensorde – een waarin ‘n konfederasie van stamme vervang is met ‘n eenheidstaat waar God nou deur middel van die koning direk sy volk kon lei en regeer.
Omdat Dawid, die nuwe koning, dít geweet en omhels het, daarom loop hy voor in die prosessie en dans – wild, uitgelate, uitbundig, vreugdevol, met swaaiende arms en ‘n skommelende lyf sodat sy klere letterlik van sy lyf begin afgly het (2 Sam 6:14-15).
Vir hom het sy diens aan Jahwe, die God van Israel, presies dít beteken: Jy mag maar dans, jubel en spring van blydskap.
Wat my laat wonder: Wat beteken die evangelie vir jou? Engheid, benoudheid, skuld of vreugde? En belangrik: Hoe leef jy die daardie vreugde uit?
O Here, gee ons vandag weer die vreugde wat by ‘n gelowige se lewe pas. Amen
Carel Anthonissen