Ek het in ‘n tent en tabernakel rondgeswerf saam met al die Israeliete (2 Samuel 7:6).
Dit is waarskynlik so dat 2 Samuel 7 – dit is die verhaal van God se weiering dat Dawid vir God ‘n sierlike tempel sou bou – meermale in Israel se geskiedenis vertel is.
Die verhaal het veral in die tyd van die ballingskap, toe die tempel as simbool van God se ewige teenwoordigheid en trou vernietig is, groot waarde gehad.
Want toe moes Israel opnuut leer dat God se teenwoordigheid en werk nie tot sy tempel beperk was nie. Dat God méér en gróter is as alle menslike instellings, tradisies en verwagtings. En dat selfs waar die tempel bedoel was om ‘n soort ontmoeting met God te bemiddel, God se werk nooit daardeur beperk of aan bande gelê kon word nie.
Want God – so moes Israel leer – was ‘n léwende God, ‘n God wat reeds van oudsher sáám met sy volk deur die spreekwoordelike dik en dun geleef en beweeg het, ‘n God wat selfs bereid was om, soos hulle, weerloos en verlate te word. Sodat hulle uiteindelik in ‘n land vol gevare en onrus kon tuiskom. Om dáár opnuut sonder vrese te leer lewe (2 Sam 7:6-16).
Hoor net hoe mooi beskryf die skrywer van 2 Samuel 7 hierdie belofte: “Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ‘n huis gewoon nie. Ek het in ‘n tent en tabernakel rondgeswerf saam met die Israeliete … Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou … Ek het ‘n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon” (2 Sam 7:6-7, 9-10).
Voel jy vandag ook soos ‘n balling – eensaam, verlate, beangs? Dan is hierdie woorde vir jou bedoel.
O Here, dankie dat U altyd by ons is – veral wanneer ons weerloos en beangs voel. Help ons om dit nooit te vergeet nie. Amen
Carel Anthonissen