In die lente, die tyd waarin konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ‘n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur … maar Dawid het in Jerusalem agtergebly (2 Samuel 11:1).
Almal van ons het ‘n reg op privaatheid – die reg, ja, selfs die voorreg om ‘n eie persoonlike lewe te lei.
Een waarin jy vry is om jou eie ding te doen, sonder dat iemand van buite inmeng of jou daarin steur. Dit is tog vanselfsprekend.
Ongelukkig – en dit weet ons ook – word die beroep op privaatheid dikwels misbruik om ‘n dubbele lewe te verdoesel. Om na buite ‘n respekvolle en beskaafde beeld uitstraal, terwyl jy agter die skerms – daar waar jy priváát is – ‘n meer twyfelagtige en donker lewe lei.
Dit is presies om hierdie dubbelslagtigheid en veral die valsheid wat daarmee saamgaan te ontmasker, ja, om ons te help om ‘n eerliker, deursigtiger en geïntegreerder lewe te lei, dat die Bybel ons by tye ‘n skerp blik in die privaat lewe van mense gun.
Ons teks vir dié week – die verhaal van Dawid se omstrede verhouding met Batseba – is hiervan ‘n treffende en selfs ontstellende voorbeeld.
Hopelik hang dié verhaal hierdie week ook ‘n belangrike spieël voor jóú lewe.
Here, niks is vir U verborge nie. Help ons om dit te onthou wanneer ons vandag weer gaan lewe. Amen
Carel Anthonissen