Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly (Jakobus 1:12).
Die geskiedenis van Dawid se owerspel met Batseba wys onder andere hoe ons menslike begeertes, wat opsigself natuurlik goed en natuurlik is, kan verword.
Hoe dit, by wyse van spreke, van ‘n klein, bykans onskuldige vlam, geleidelik tot ‘n verwoestende vuur kan uitgroei. Een wat nie alleen ons oordele as mens kan verwar en afstomp nie, maar ook die lewe van ander om ons kan benadeel en verwoes.
Hoe dit gebeur, sien ons duidelik in hierdie ontstellende vertelling oor Dawid se owerspel met Batseba (2 Sam 11-12). Want wanneer hy Batseba eenmaal begerig aanskou het, eindig dit nie daar nie. Sy begeerte loop spoedig oor in owerspel, waarná ‘n kwaadwillige plan volg. Een wat uiteindelik tot die moord van Batseba se man, Urija, lei.
Hoe verskriklik is dit nie dat Dawid in die loop van enkele dae nie minder as drie van God se gebooie oortree. En die ergste is: Dawid het skynbaar geen begrip van die verskriklike gevolge van sy dade nie.
Maar dít is waar ongesonde begeertes ons tereg kan bring.
Dit is geensins verniet nie dat Jakobus ons in sy brief waarsku dat ons onsself in dié opsig nie moet mislei nie. Want hoewel ons begeertes ‘n wonderlike gawe van God is, kan hulle ons verlei en insleep in ‘n toestand van sonde en verval – een wat kan uitloop op die dood (Jak 1:12-18).
Here, U self het die begeerte na mooi dinge en intieme verhoudings in ons geplaas. Ons dank U daarvoor. Maar help ons vandag weer dat hierdie begeertes nie ontspoor en ongesond raak nie. Amen
Carel Anthonissen