Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal … Sy het na hom toe gekom en hy het by haar geslaap (2 Samuel 11:4).
Dat Dawid op ‘n ledige middag sy norme verskuif en owerspel gepleeg het, kan op ‘n eerste vlak teruggevoer word na die feit dat hy God geminag het (2 Sam 12:9-10).
Maar die saak is tog méér ingewikkeld en selfs boeiend as dit.
Want die keersy, selfs die oorsaak van Dawid se onverskilligheid teenoor God, het daarin bestaan dat hy as koning op ‘n stadium té groot en té belangrik in sy eie oë geword het. Sodat hy hom die reg begin toeëien het om te doen wat hý wou – selfs al het dit enorme skade vir sy medemens én volk beteken.
Wat ons hier sien, is nie ‘n onbekende verskynsel in die geskiedenis van die mensdom nie. Dit is dat té veel mag sekere mense, ja, selfs die bestes onder ons, kan korrupteer. Só korrupteer dat hulle totaal onverskillig, onregverdig en selfs geweldadig begin optree. En hulle dade boonop regverdig of selfs ontken.
Die berekende manier waarop Dawid Batseba misbruik, haar man uitgeskakel en alles verdoesel het, asof hy die vanselfsprekende reg daartoe het, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Dawid se optrede klop met wat ‘n Russiese skilder op ‘n keer van hulle leiers gesê het: “Ten years, fifteen years ago, some people – good people – entered politics, but once they were there they changed completely. That’s the impact of power. And it has frozen Russia from the fifteenth century until now.”
Dit bly tragies dat leiers só kan verword. En dat daar dikwels niemand is wat hierteen opstaan nie.
Here, hou ons vandag weer nederig voor u aangesig. En bewaar ons daarvan dat ons méér sal dink van onsself as wat nodig is. Amen
Carel Anthonissen