Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God se genade is groter

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur (2 Samuel 12:1).

Gelukkig eindig die verhaal van Dawid se owerspel met Batseba nie net in dood en chaos nie.

In die verhaal is daar ook sprake van herstel, selfs van ‘n nuwe toekoms wanneer Salomo as troonopvolger vir Dawid en Batseba gebore word (2 Sam 12:24-25).

Laat ons nie ‘n fout maak nie. Dat Dawid wél op ‘n dag tot besinning kon kom en sy sondes bely (Ps 51), was nie in die eerste plek sý inisiatief nie. Nee, dit lê volledig in God se genade – in die wonderlike feit dat God, ondanks Dawid se minagting van God, nooit opgehou het om met Dawid moeite te maak nie.

God kon, soos met Saul, Dawid eenvoudig verlaat en in sy sonde laat sterf het. Maar nee, God stuur eers vir Natan om Dawid te vermaan en tot nuwe insigte te lei (2 Sam 12). En dan, nadat God Dawid die volle konsekwensies van sy dade laat deurleef het – hy moes onder andere die dood van sy en Batseba se eersteling aanvaar en deurstaan – skenk God aan hulle ‘n tweede kind.

Hierdie seun sou nie alleen die koningskap by Dawid oorneem nie – hy was by uitstek ook ‘n teken van God se vergewende en troue liefde teenoor die huis en familie van Dawid. Sy naam heet dan heel gepas ook: “Die Here het hom lief” (2 Sam 12:24-25).

Hopelik troos die geskiedenis van Dawid jou ook vandag in dié opsig – ‘n geskiedenis wat onder andere wys dat God se genade veel groter en sterker is as sy oordeel.

Ook dat hierdie genade vir jóú bedoel is, ondanks jou mislukkings.

Here, dankie dat u genade vandag, net soos destyds met Dawid, genoeg is vir my. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.