Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, vrou van Urija die Hetiet” (2 Samuel 11:3).
Een van die sondes wat Dawid, ná die onsmaaklike episode met Batseba waarskynlik moes bely, was hoe hy van sy nabye vertrouelinge en vriende in die steek gelaat het.
Luister net hierna: Batseba se pa, Eliam, was die seun van Dawid se raadgewer Agitofel (2 Sam 15:12). Sowel Eliam as Urija – Batseba se man wat as gevolg van Dawid se verfoeilike geknoei gesterf het – was deel van Dawid se uitgesoekte en gewaardeerde vegters (2 Sam 23:13, 34, 39).
As vrou, dogter en kleindogter van hierdie oorlogshelde, was sy na aan Dawid se vertroude vriendekring, indien nie indirek deel daarvan nie. En nou, deur die ongeoorloofde seksuele eskapade met haar, toon Dawid nie net ‘n brutale ongevoeligheid nie. Hy toon ‘n volkome gebrek aan lojaliteit teenoor sy manskappe en raadgewer-vriend.
Baie ken hierdie verraad van vriende en familie. Van hoe diesulkes jou in die rug kan steek, op jou kan neersien of jou blatant kan verontreg of ignoreer.
Dit bly een van die pynlike laste wat ‘n mens soms moet dra.
O Here, U weet hoe ek vandag worstel om hulle te vergewe wat my verontreg het. Gee my vandag daardie genade om, terwyl ek die onreg erken, nie toe te laat dat dit my lewe onnodig belas of selfs verwoes nie. Gee my die nodige begrip, liefde en veral die moed om te vergewe. Amen
Carel Anthonissen