Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood (Spreuke 17:17).
Deel van die proses van ouer word- is dat ‘n mens se vriende minder raak.
Sommige sterf eenvoudig en verdwyn vanuit jou horison. Of jy self leef op hierdie stadium van jou lewe meer na binne en raak asosiaal.
Feit is: Jou vriende raak mettertyd uitgedun en skaarser. Daarom is dit belangrik dat ‘n mens tydens hierdie later fase van jou lewe spesiaal moeite sal doen om familiebande te bly koester. Maar ook jou vriende rustig, maar doelgerig, te bly opsoek of oornooi.
Daar is voorbeelde van mense wat nooit hierdie moeite gedoen of tyd daaraan bestee het nie. Of wat hulle vriendskappe in later jare verwaarloos het.
Sulke mense raak meesal eensaam en afgesonderd oud.
Daar is egter ander mense wat blý moeite doen om kontak met hulle vriende te hou, hetsy deur gereelde briewe, e-posse, oproepe of afsprake. Hulle weet dat ‘n goeie vriend se liefde iets is waarop ‘n mens altyd kan reken (Spreuke 17:17) – dat goeie vriendskappe daarom steeds die heel beste verweer teen die kwale, depressie en eensaamheid van die ouderdom bly. Ook iets wat jou altyd laat uitsien na die dag van môre.
En sulke vriendskappe verg regtig nie baie moeite nie.
Here, dankie vandag weer vir vriende op wie se liefde ‘n ek altyd kan reken. Amen
Carel Anthonissen