Jy mag nie moord pleeg nie (Exodus 20:13).
Soos reeds gesien, was daar verskillende reaksies op Tamar se verkragting deur haar stiefbroer, Amnon.
Eerstens was daar Dawid wat as pa nie ingegryp het om die onreg te besweer nie. En só die situasie op die lange duur vererger het.
Direk as gevolg van Dawid se passiewe houding, volg Absalom – Tamar se geliefde broer – se daad van weerwraak. Want wanneer die tyd daarvoor ryp is en Dawid afsydig bly, neem Absalom die reg in eie hande en vermoor hy Amnon.
Absalom se reaksie is niks ongewoons nie. Tot vandag toe bly dit die manier waarop baie individue en nasies hulle teenoor ander handhaaf en die onreg probeer besweer.
Wanneer sal ons leer dat weerwraak en vergelding, geweld en moord nie die weg is om sinvol iets aan onreg te doen nie? Altyd lei dit – soos ons ook uit hierdie verhaal kan sien – tot méér haat, bloediger geweld, groter onreg, bitterder trane en uiteindelik: die verdwyning van hoop.
Tereg skryf Karen Armstrong in haar boek “Fields of Blood”: “When we confront the violence of our time, it is natural to harden our hearts … Somehow we must find ways of doing what religion – at its best – has done for centuries: build a sense of global community, cultivate a sense of reverence and ‘equanimity’ for all, and take responsibility for the suffering we see in the world.”
Dit bly ons grootste uitdaging in ‘n samelewing vol weerwraak en geweld.
Onse Vader, lei ons vandag nie in die versoeking om woede met woede, geweld met geweld te vergeld nie. Amen
Carel Anthonissen