Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? (2 Korinthiërs 6:14).
Met die agterkant van haar hand vee sy stadig die trane van haar wange af, terwyl sy nog ’n brokkie van haar hartseerstorie vertel.
Van hoe sy oor jare deur haar man gemanipuleer, verneder en bedrieg is, altyd met die verskoning – meesal na nóg ’n drama, nóg trane – dat hy alles berou en dat hy volgende keer beter sal doen. Wat nóóit gebeur het nie. Die patroon het trouens oor die jare net vererger.
Totdat sy op ‘n dag geen ander keuse vir haarself gesien het as om weg te stap, die pad te vat en te verdwyn nie. En ná ‘n lang proses, waarin sy haar spreekwoordelike hand met groot omsigtigheid moes speel, uiteindelik geskei is.
Daar is ‘n kind wat die skeiding tot vandag toe steeds kompliseer. Want onder dié omstandighede, kom jy nooit volledig weg van wat agter jou gelaat is nie. En bly jy verskeurd, selfs al is en voel jy vryer.
Ek vertel die verhaal, want dit is die lot van baie vroue wat onwetend in die kloue van sulke onvolwasse, ongebalanseerde en selfs geestelik siek mans beland. En wat baie dae ten einde raad moet worstel om sin van hulle lewe te maak.
Miskien is die raad van dié ma aan haar dogter hier ter sake: Dat sy in haar eie verhoudings moet weet: “‘n Luiperd sal nie weet as jy hóm eet nie, maar hy sal, gegewe die kans, jóú met oorgawe vreet.”
Só eerlik en realisties moet gelowiges met ‘n sin vir reg en regverdigheid soms wees.
Here, ons dink vandag aan almal wat in ongesonde en onderdrukkende verhoudings leef. Gee hulle die onderskeidingvermoë om te weet wanneer hulle ter wille van hulle eie waardigheid én u eer nie langer met onreg en vernedering mag saamleef nie. Amen
Carel Anthonissen