As ek wakker word, voel ek soos ‘n eensame voël op ‘n huis se dak (Psalm 102:8).
Onlangs by ‘n stildag – maandeliks gereël deur die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit – praat die deelnemers oor die tema: “As die leegheid toeslaan”.
Hoe goed ken ons nie dié gevoel nie, wanneer alles op ‘n dag skielik hulle sin en betekenis verloor. En jou lus vir alles eenvoudig opdroog. Sodat selfs dié dinge wat jou lewe gewoonlik opvrolik, onverwags vaal en onaptytlik voorkom – soos ‘n grys winter wat jou oorval het.
Daar is báie dinge wat ons só kan beroof van ons lewenslus en -vreugde: die trauma van werkloosheid, die gewig van skuld en finansiële bekommernisse, die verlammende effekte van depressie, die onuitstaanbare pyn van verlies, die smart van dood of afskeid. En moenie dit onderskat nie – daar is ook die broosheid van die ouderdom, die koms van die sogenaamde “swaar dae” (Prediker 12:1) wanneer jy al meer soos ‘n eensame voël op ‘n verlate huis se dak begin voel (Ps 102:8).
Dit is goed om wanneer hulle kom, hierdie leegtes in ons lewe te herken – ook na te dink oor die redes daarvoor. En om dan met die geloof dat dit tog kán verander, nuwe weë, strategieë en selfs rituele of dissiplines te bedink hoe om daaraan te ontsnap.
Daarna wil ons in die volgende paar dae kyk.
Here, vandag haal die leegtes my in. Vergeet my tog nie in dié moeilike tyd nie. Amen
Carel Anthonissen