Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wat ‘n vergissing!

Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie (Romeine 12:16-17).

In Johannes 6:60-61 lees ons dat nie net die Jode nie, maar Jesus se eie volgelinge, afgeskrik was deur sy woorde dat vir ware lewe, hulle sy liggaam en bloed moes eet.

Miskien het hulle beter as die res geweet wat dit alles beteken!

Geweet dat om Jesus werklik te volg, jy allereers jou eie swakhede en gebrokenheid sal raaksien, erken en omhels. Kortom, dat jy bereid sal wees om weerloser te leef. Want alleen só kry jy deel aan Jesus, aan sy weg, sy program van vrede, geregtigheid en liefde vir alle mense.

In ‘n boeiende nuwe reeks oor Amerika genaamd “The untold history of the USA”, lig die bekende filmmaker, Oliver Stone, hierdie onwil om kwesbaar te leef as Amerika se grootste sonde uit. In dié verband haal hy ‘n aangrypende uitspraak van Chris Hedges aan. Dit handel oor sekere leiers van sy land se jarelange en tragiese beheptheid met oorlog, aggressie, geweld en wêreldoorheersing.

“The tragedy is that if we had the courage to be more vulnerable, to build on empathy and love, we would have been far more safe and secure than we are today. But we responded like the terrorists wanted us to respond. They wanted us to speak the language of violence.”

Die groter tragedie is dat baie van hierdie leiers – en laat ons onsself as ondersteuners en napraters nie uitsluit nie – gedink het hulle voer hulle oorloë in die naam van ‘n groter beskaafheid. Dat hulle daarmee deel het aan Christus se liggaam.

Wat ‘n vergissing!

Here, vergewe ons ons hooghartigheid en neiging om kwaad met kwaad te vergeld. Leer ons vandag meer van u liefde wat almal met respek behandel. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.