Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet … (Romeine 8:28).
Ek onthou nog hoe die jong seun skielik begin huil het toe hy van sy neef se dwelmprobleem hoor.
Hy was verslae en kon nie glo dat iemand so geliefd en talentvol by so ‘n donker, gapende afgrond kon beland nie – ‘n afgrond wat lank vir die familie onsigbaar was en nou gedreig het om ‘n jong lewe in te sluk en te vernietig.
‘n Lang tyd van worsteling, terugslae en onsekerheid het hierna volg. En toe, ná etlike jare se stryd en hulp, ook van gebede en ondersteuning deur ouers en vriende, het daar op ‘n dag ‘n verrassende en welkome wending gekom.
Geleidelik het die geteisterde neef op sy voete gekom en begin leef.
Vandag is hy ‘n opkomende talent op sy terrein. En dit gaan steeds beter. Sy velerlei gawes het uitgeblom tot wat Paulus ‘n aangename geur vir almal rondom hom noem. Ook ‘n lig van hoop vir baie wat soos hy vandag steeds sukkel.
Sy verhaal herinner ons dat mense wel kan verander. Dat ‘n mens nooit hoop moet opgee nie. Ook dat ‘n lewe wat oënskynlik vasgeloop het – en daar is hope sulke voorbeelde – kosbare lesse en uitdagings kan bevat. Selfs die moeite werd kon wees.
Dit bly tog die troos van die evangelie: Vir ‘n gelowige is niks ooit volledig sinloos nie. Dat alles uiteindelik in ‘n patroon kan val, selfs ten goede kan meewerk.
Here, wat ‘n troos om te weet dat selfs in die mees tragiese gevalle U daar is om alles ten goede te draai. Amen
Carel Anthonissen