Maar die Here se planne staan vir altyd vas; sy beplanning geld vir geslag na geslag (Psalm 33:11, nuwe lewende vertaling).
Iemand vertel my dié week ‘n ontstellende storie oor ‘n boesemvriend van hom wat ten einde raad sy eie lewe geneem het.
Dinge het eenvoudig net té veel vir hom geraak sodat, in sy eie woorde, “hy nie meer planne gehad het nie”.
Dit kan inderdaad gebeur dat ‘n mens se eie planne opraak. Dat die druk en spanning só groot word dat jyself nie meer herwaarts op derwaarts weet nie – of, soos die spreekwoord lui, voel asof jy van alle hulp ontneem is.
Al wat dan oorbly, is dikwels net die angs, die alleenheid en die donkerte.
In sulke tye is dit goed om te weet dat ons eie planne meesal tekort skiet, of kan misluk – en daarom nie genoeg is nie. Dat méér as ons eie planne nodig is om ons deur die ellende te kry. En dat hulle wel bestaan en beskikbaar is – byna soos ‘n argitek wie se planne iewers in ‘n laai vir aandag lê en wag.
Is dit nie waaraan die Bybel ons voortdurend herinner nie: Dat God planne het vir ons lewe? En dat God se planne boonop betroubaar is, ja, vas staan? Ook groter is as wat ons nou kan sien?
Wat nodig is, is dat ons, selfs in ons donkerste uur, dáárop sal bly vertrou, hoe lomp en onseker ook al.
O Here, wat ‘n troos om te weet dat wanneer ons planne opraak, u planne vir ons lewe nie opraak nie. Ook dat hulle betroubaar is. Help ons om aan hierdie wete vas te hou. Amen
Carel Anthonissen