Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan…(Jakobus 1:27).
Eerskomende Sondag staan tradisioneel in die meeste Christelike kerke bekend as Barmhartigheidsondag.
Op dié Sondag dink ons doelbewus aan almal wat ly en swaarkry. En wat ons spesiale aandag, sorg, liefde en ook gebede nodig het.
Want dít is wat barmhartigheid beteken. Barmhartigheid begin gewoonlik daar waar dat jy onverwags aangeraak en ontroer, ja, selfs ontstem word deur die nood, pyn en eensaamheid van die ander. Só ontroer dat jy nie anders kan nie. Jy begin, net soos die bekende Samaritaan van Lukas 10:25-37, uit jou pad te gaan, selfs nuwe grense oor te steek om by die ander te wees.
Hierdie nabyheid aan die ander kan vandag geskied deurdat jy eenvoudig elke dag méér aan hulle wat swaarkry begin dink, méér vir hulle begin bid. Wie dít begin doen – so leer die ervaring ons – word mettertyd ook gedring om meer daadwerklik uit te reik na die noodlydendes en hulpbehoewendes, om hulle te besoek, hulle versugtinge aan te hoor en hulle wonde te begin versorg.
Weet tog: Wanneer ons só leef, begin ons iets van Hom, die groot Barmhartige, weerspieël wat regdeur sy lewe met deernis na ander mense uitgereik het. Die Één wat uiteindelik sy lewe vir ons almal wat in nood verkeer, sou aflê.
Jakobus 1:27 herinner ons hierdie week weer daaraan dat die egte diens aan God presies dáárin bestaan.
Ag Here, maak ons harte sagter. Gee ons vandag meer deernis vir hulle wat swaarkry. Amen
Carel Anthonissen