Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Maklik sal dit nie wees nie

En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming (Jakobus 1:4).

Dit bly ironies dat dit juis ‘n moedige geloofstap was wat in die vroeë Christelike kerk tot allerlei spanning en verdeeldheid aanleiding gegee het.

In ooreenstemming met die geloof dat die God van Jesus niemand voortrek of uitsluit nie, het die gemeentes destyds doelbewus gekies om hulle deure en harte oop te maak. En só mense uit alle vlakke van die samelewing, stande en klasse tot hulle geledere toe te laat.

Dink maar net aan Paulus se werk – hoe hy Joodse Christene algaande oortuig het om die bekeerde heidene as broers en susters te aanvaar.

Tog het die kanker van ou vooroordele en ongesonde diskriminasie nooit volkome verdwyn nie. Vroeg reeds het dit hierdie lofwaardige inisiatiewe bedreig, soveel so dat onderlinge twis en verdeeldheid in Jakobus se tyd ‘n groot krisis geword het.

Waarvan ons hier hoor, is niks vreemds nie. Trouens, wie deel is van die kerk as liggaam van Christus, sal hulle van huis uit in hierdie ongemaklike spanningveld bevind. Hulle sal voortdurend uitgedaag word om die dikwels pynlike verskille tussen mense en gelowiges te aanvaar en dit ook met geduld en liefde te leer hanteer.

Maklik sal dit nooit wees nie. Maar dit is waartoe ons as gelowiges, ja, as gemeente van Christus, geroep en bestem is. Só, langs die weg van geduldige aanvaarding, bereik ons algaande geestelike volwassenheid (Jak 1:4).

En word ons die lig waarna die wêreld daarbuite so smag.

O Here, gee ons vandag die geduld, liefde en uithouvermoë om ander van wie ons verskil, te aanvaar. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.