So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag (Jakobus 3:5).
Taal bly een van die wonderlikste vermoëns van die mens.
Wandel maar net in die strate van ‘n vreemde land – jou mond hang letterlik oop as jy luister na al die vreemde klanke wat uit mense se monde kom. En om dan te besef: Hulle praat met mekáár, hulle verstáán mekaar!
Dit is iets om jou blywend oor te verwonder.
Hoe wonderlik die tale wat ons praat ook al is, hulle het altyd ook ‘n gevaarlike kant. Trouens, die manier waarop ons óór of mét ander praat, sit meesal aan die wortel van die wantroue, onenigheid en vervreemding wat tussen mense bestaan. Ons tong kan, by wyse van spreek, ongekende en dikwels onnodige agterdog, kwaad en tweedrag saai. En só verhoudings permanent versuur.
Dit is geen wonder dat Jakobus die tong ‘n dodelike vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, ja, selfs ‘n rustelose kwaad vol dodelike gif noem nie (Jak 3:6-8). En hy weet waarvan hy praat. Hy het die skade wat kwaadpraat, woedebuie en geskinder in ‘n gemeente en familie kan aangerig, self gesien.
Gelukkig, en dit moet ons altyd bysê, kan ons taal ook salwend wees, ons woorde vol troos en bemoediging, ons tong ‘n orgaan wat liefde, lof en vrede dra en verkondig.
Daarop behoort ons baie meer te konsentreer.
Here, dankie vir die gawe om te kan praat. Bewaar my van skewe en kwade woorde. Skool my voortdurend in die taal van u liefde. Amen
Carel Anthonissen