Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jakobus 3:18).
Aan die einde van hoofstuk drie – ons teks vir die week – maak die apostel en skrywer Jakobus ‘n vreemde, maar merkwaardige uitspraak.
Dit is dat die ware wysheid wat ons in staat stel om inskiklik en bedagsaam teenoor ander op te tree, ons terselfdertyd, ja, amper outomaties, in die regte verhouding tot God plaas (Jak 3:18).
Die implikasies van hierdie vreemde stelling is duidelik.
Dit is dat ons nie altyd op ons knieë hoef te gaan om dáár in ‘n vroom, gewyde oomblik ons verhouding met God reg te pleit nie. Nee, deur eenvoudig reg en goed te lééf, dit is met liefde, regverdigheid en bedagsaamheid, kom ons as ‘t ware vanself met God se wil vir die mensdom in pas.
En word ons verhouding met God opnuut bevestig en versterk.
Hierdie vorm van wysheid wat in goeie dade uitkom en wat op dié manier met God se drome saamval, só herinner Jakobus ons verder, bly die onmisbare instrument vir vrede op aarde.
Vandaar dan ook sy oproep: “Gebruik hierdie unieke vorm van wysheid om vrede te maak” (Jak 3:18). Of in die woorde van Franciskus se bekende gebed: “Here, maak my ‘n instrument van vrede.”
Tog merkwaardig dat ons manier van leef vréde kan skep!
O Here, help ons om vandag weer só te leef dat U ons as ‘n instrument van vrede kan gebruik. Amen
Carel Anthonisse