Boodskap vir Vandag

Search

Dit draai om sielkunde

Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? (Jakobus 4:1).

Iemand het op ‘n keer die interessante opmerking gemaak dat alles in die lewe eintlik maar om sielkunde draai.

Daarmee het hy bedoel dat as ons goed genoeg kyk, ons sal raaksien dat agter die meeste mense se dikwels onverwagse negatiewe reaksies – hulle neiging tot venyn, twis en jaloesie – daar gewoonlik ‘n persoonlike probleem of wroeging skuil.

Hierdie wroeging hang meesal met vroeëre ervarings van verlies, onverwerkte pyn, onreg of selfs net ‘n grootskaalse teleurstelling of terugslag saam. Sonder dat hulle dit altyd goed besef, dra diesulkes hierdie onaangename herinneringe dikwels jare lank met hulle saam.

En projekteer hulle dit in die vorm van woede, verwyte, sinisme en selfs haat op ander mense.

Wie die probleme van die wêreld by sy wortels wil aanpak, moet hiermee rekening hou – hierdie meesal verborge, innerlike wêreld van mense. ‘n Wêreld wat ook by onsself leef en wat ons voortdurend moet monitor en eerlik ondersoek.

Wie goed luister, sal dit hoor: Hoe Jakobus in sy brief aan ‘n twistende gemeente op hierdie sogenaamde sielkundige faset van ons lewe sinspeel. Lees maar net weer Jakobus 4:1.

Here, ons binnekant is dikwels baie deurmekaar. Daarom is ons so onrustig, so onnodig buierig en kwaad. Gee ons insig hierin en laat ons meer vanuit u vrede en vergifnis leef. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.