Julle kry nie, omdat julle nie bid nie (Jakobus 4:2).
As dit so is dat die probleme van die wêreld in die innerlike van mense begin, met ander woorde in die magdom van onverwerkte en onbewuste pyn wat ons gemoedere kwel en belas, hoe oorkom of besweer ‘n mens dit?
Natuurlik allereers deur ‘n vorm van selfondersoek en ‘n eerlike konfrontasie met hierdie verborge wêreld van innerlike stryd en wroeging.
Tog gaan Jakobus in die gee van raad nog ‘n stap verder. Want hy weet goed dat blote insig in wat innerlik pla, geensins waarborg dat ‘n mens daadwerklik sal verander nie.
Nee, daarvoor is egte gebed en selfontlediging nodig. Dit is daardie soort gebed waarin ons ons in nederigheid aan God onderwerp. En dus ook nie huiwer om ons eie leegheid en gebrokenheid voor God te bring nie (Jak 4:7-10).
Selfs al is dit uiters pynlik en swaar, selfs al verg dit leeuemoed en trane.
Alleen só, via die weg van verootmoediging en berou, bereik ons ‘n punt waar God ons kan seën. En waar ons kan hoor – en dit ook glo – dat die genade wat God gee, nog heelwat groter as ons eie innerlike laste is (Jak 4:6).
Op dié weg, so redeneer Jakobus, is daar ook hoop vir ons deurmekaarwêreld.
O Here, ons as moderne mense het afgeleer om tot U te bid. Leer ons vandag weer om in nederigheid voor U te buig, sodat ons vryer en heler mense kan word. Amen
Carel Anthonissen