Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16).
Daar is min dinge wat ‘n mens so kan vermoei en moedeloos maak as ‘n gevoel van magteloosheid.
Dit is die gevoel dat daar niks meer aan ‘n bepaalde saak of omstandigheid gedoen kan word nie. Dat daar geen verdere uitweë of uitsig bestaan nie.
Jakobus noem – amper terloops – twee dinge wat ons daardie gevoel kan gee.
Die een is erge swaarkry en siekte (Jak 5:13-14), die ander ‘n geheime misstap of sonde (Jak 5:15). Die laaste een is iets wat jy aan jouself of ander gedoen het en wat nou onherstelbaar en onomkeerbaar blyk te wees.
Of iets waarin jy verstrik geraak het en waaraan jy oënskynlik nie kan ontsnap nie. Dit word dan, soos mense dikwels oor sulke donker situasies praat, “een stuk nag!”
Volgens Jakobus hoef dit nie die einde van die wêreld te wees nie. En kan ons as gelowiges iets doen om hierdie nagmerries blymoedig te deurstaan. Selfs daaraan te ontsnap, al voel ons ook hoe magteloos.
Hierdie iets is om te bly bid – om nie die nut en krag van gebed te onderskat of prys te gee nie. Jakobus sê dit in soveel woorde: “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak 5:16).
Hieroor moet ons verder praat. Want, kom ons wees eerlik, wie dink vandag nog dat gebed ‘n verskil kan maak?
Here, ons kom en buig nou weer voor U. Ons weet nie mooi hóé of wát ons moet bid nie. Maar ons vertrou dat Ú weet. En dat om nou by U in die stilte te wees, genoeg is. Amen
Carel Anthonissen