As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig (Jakobus 4:3).
Wie Jakobus se raad volg dat gebed ons van ons magteloosheid kan bevry, moet weet dat daar verskillende maniere van bid is.
‘n Mens kan byvoorbeeld bloot uit gewoonte of bygelowigheid bid. Sonder om te verwag dat dit regtig ‘n verskil aan ons lewe sal maak.
Byna soos daardie Jood wat elke dag getrou by die klaagmuur in Jerusalem vir sy land, familie en vriende gaan bid het. Toe iemand hom eendag vra of sy gebede darem werk, was sy verrassende antwoord: “As ek eerlik moet wees: Dit is soos om elke dag met ‘n muur te praat.”
Weliswaar is dit die ervaring van baie mense met gebed – dat jy met ‘n muur of teen die dak praat.
En tog, as dit die enigste gevoel is wat ons oorhou wanneer ons bid, moet ons oorweeg of ons nie, soos Jakobus suggereer, verkeerd bid nie (Jak 4:3). Of ons gebede nie dan uitsluitlik deur ons eie, meesal selfgerigte wense, begeertes en behoeftes gedryf en gekleur word nie.
Sodat wanneer ons wensdrome nie realiseer nie, ons eenvoudig die afleiding maak dat gebed ‘n sinlose en nuttelose oefening is.
Só eenvoudig is dit egter nie. Volgens Jakobus bestaan daar iets soos ‘n meer egte vorm van gebed. Een wat ‘n kragtige uitwerking kan hê.
Hiérdie vorm van gebed moet ook oorweeg, en veral bepróéf word.
Here, vergewe ons dat ons gebede dikwels net een groot versoeklys is, die produk van ons eie selfgerigte wensdrome en begeertes. Gee ons tog ‘n oog vir ú drome en begeertes, ú Koninkryk en wil. Laat dít vandag die begin en einde van ons gebede wees. Amen
Carel Anthonissen