Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word (Spreuke 7:6).
Jou prag het jou hooghartig laat word … (Esegiël 28:17).
Min mense sal my glo as ek sê dat ek kort gelede langs die huidige Mejuffrou Wêreld sit en eet het.
My pad kruis nie dikwels met sulke gevierdes nie, maar dié slag was dit wel so.
Die kelnerin wat ons na ons plek in ‘n ietwat private hoekie van die restaurant geneem het, kon nie ophou glimlag nie. “Mejuffrou Wêreld eet vanaand hier by ons – nét hier, hier lángs julle!”, het sy dit opgewonde uitgeblaker.
En dit wás toe so. Ons het nie lank gesit nie voordat die skone dame met haar gevolg opgedaag het nie. Trots soos ons is, wou ons natuurlik nie wys dat ons weet of kyk nie. Maar natuurlik het ons af en toe geloer. Net om seker te maak dat sy wel so mooi is soos wat die mense en koerante sê.
En dit was waar! Soos my seun dit gestel het: “Ja, sy lyk tog skattig.”
Die aand het my weer laat nadink oor die paradokse van skoonheid. Oor watter gawe skoonheid is. Hoe dit mense kan aantrek. En hoe so ‘n gawe gebruik kan word om ander mense ook mooi en goed te laat voel. Bloot deur net jou bekoorlike self bý hulle te wees.
Maar só maklik is dit natuurlik nie. Want skoonheid wat gedurig aandag trek en aangeprys word, kan mense ook bederf, hooghartig maak en belangriker laat voel as wat hulle is – asof die hele wêreld hulle bewonder.
Boonop kan skoonheid jou ook isoleer en eensaam maak.
Ek kon haar nie hierna uitvra nie, maar ek is seker: Mej Wêreld wéét dit!
Here, dankie vir die gawe van skoonheid. Help hulle wat hierdie gawe ontvang het om dit aan ander diensbaar te maak. Amen
Carel Anthonissen