Na so ‘n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig… (Job 1:5).
Die verhaal van Job waaroor ons teks van die week handel, begin met die allermooiste prentjie van hoe ‘n ware gelowige se lewe lyk.
Job, so word gerapporteer, was iemand wat alles gehad het om permanent gelukkig en geborge te voel. Hy was uitermate welaf, het groot aansien geniet en was boonop geseën met ‘n groot familie.
Hieronder was sy sewe kinders met hulle onblusbare lus vir die lewe waarskynlik die grootse gawe.
En tog, so lees ons, was Job, ten spyte van sy daaglikse toewyding aan God, nie heeltemal gerus of tevrede nie. Diep in sy hart het hy hom daaroor bekommer dat sy rykdomme sy kinders kon bederf. Ja, erger nog, dat hulle so onafhanklik en selfs onverskillig kon word dat hulle hulle geloof in God sou afsweer.
Om dié rede het hy gereeld gesorg dat hulle ná hulle jolige partytjies, die nodige reinigingsoffers voor God bring. “Want,” het hy geredeneer, “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.”
Ons sien hier ‘n heilige onrus wat die gewete wakker hou en wat altyd deel behoort te wees van ons lewe as ‘n gelowige.
Want behalwe vir ons kinders, hoe kwesbaar vir selfsug, kwaad en ongeloof is onsself nie ook maar nie?
O Here, bewaar ons van onnodige kommer. Gee ons daardie onrus wat ons gewetens gesond en wakker sal hou. Amen
Carel Anthonissen