Die Here is my rots, my skuilplek en my redder (Psalm 18:3).
Onlangs vertel ‘n vrou boeiend oor haar broer wat reeds in sy middeljare is, maar steeds nie werk het nie. Steeds sukkel om aan te pas in die lewe.
Sy gebruik ‘n interessante uitdrukking om sy sukkelende bestaan te beskryf: “Hy het nooit geleer om die lewe te dóén nie.”
Om die lewe te dóén – sjoe, wat ‘n manier om ons grootste uitdaging as mense te beskryf.
Want om die lewe te doen, is om te leer om die lewe en alles wat dit elke dag na ons toe aanbring sonder té veel angs en kommer, ja, met selfvertroue en ook geloof te hanteer — geloof wat ons moet help om te sê: Selfs al slaan die lewe soos ‘n woedende see oor my sodat ek dreig om onder te gaan, sal ek nie moed opgee of verloor nie.
Sal ek bly vaar, bly vertrou, bly voortleef.
Want iewers moet die gety weer draai! Die storm weer kalmeer. Iewers sal dit duidelik word dat die lewe nie heelpad kwaai of sleg of onplesierig is nie. Ook dat ek altyd in goeie Hande is.
Party, soos die broer, sukkel om dit te sien. Maar vandag, ten minste vandag, mag jy nie daaroor twyfel of moed opgee nie. Want dieselfde God wat die psalmdigter tot lofsange beweeg het, waak ook oor jou.
Sodat jy ten minste hierdie dag se stukkie lewe kan doen.
Here, help tog vandag dat ten spyte van my gevoel dat die lewe teen my draai en ek verloor, om nie moed te verloor nie. Gee my die selfvertroue wat nodig is om die lewe goed te doen. Amen
Carel Anthonissen