Ek kan nie ophou kla nie. As ek maar net geweet het waar om God te vind … (Job 23:2-3).
Job is op ‘n bepaalde vlak ‘n baie ontstellende boek.
Dit wys onder andere hoe toegewyde mense, gelowiges wat God met groot erns dien, geen waarborg het dat hulle pyn en lyding sal vryspring nie.
Hoeveel voorbeelde hiervan bestaan daar nie!
In Job se geval was dit byna te erg. Lees maar net hoofstuk 23. Hier sien en hoor ons ‘n mens wat nie alleen liggaamlik afgetakel is nie (Job 2:7), maar ook geestelik ontwrig en verwar is.
Daarom kan hy nie ophou kla nie (Job 23:1-3). Tas hy angstig in die donkerte rond sonder uitsig of antwoorde (Job 23:17). Is hy rusteloos, gefrustreerd en opstandig, omdat hy God eerlik met oorgawe probeer dien het (Job 23:1,10-12).
En nou dít.
Ja, dit is die pynlike ongemak waarmee ons as gelowiges gedurig moet leer saamleef. Dat geen mens die lewe uit God se perspektief kan sien nie.
En daarom kan ly sonder onmiddellike begrip of uitsig.
Here, soos Job verlang ons vandag om U te vind. Om u pad met ons beter te verstaan. Hoor tog ons klag. Hoor ons vandag wanneer ons roep. Amen
Carel Anthonissen