Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees (Job 23:15).
Jy sal tog saamstem: Job se pleidooi teenoor God en sy vriende dat hy volkome onskuldig is, selfs suiwer soos goud leef (Job 23:10), klink effe vreemd, indien nie uiters arrogant nie.
Geen mens kan dít tog sê nie – veral nie as jy soos Paulus weet dat niemand regverdig is nie (Rom 3:10-18). En dat ons goeie bedoelings soms heeltemal skeef kan uitdraai (Rom 7:21-24).
Tog, deur Job se pleit van onskuld op te stel teenoor sy vriende se bewering dat sy lyding as gevolg van die een of ander sonde is – en dat hy dit moes erken en bely – wou die skrywer van die boek ʼn bepaalde punt maak.
Dít is dat God nie noodwendig mense laat ly as gevolg van die een of ander sonde nie. Of mense outomaties seën wanneer hulle goed doen nie. Dit was die vals wysheid wat Job se vriende aan hom wou opdwing.
Nee, God se werk – so wil die skrywer ons herinner en selfs troos – is veel ingewikkelder en geheimnisvoller. Want God is soewerein, selfs ook baie méér genadig as wat ons dink. So laat God sy son oor goeies en slegtes opkom (Matt 5:45). Verwek Hy uit klippe kinders vir Abraham. En laat Hy toe – en dít is die pynlik deel – dat sy geliefde kinders by tye kan ly en swaarkry (Jak 1:2-8).
Dit is die onpeilbare geheim waarmee Job moes saamleef.
En waarmee ons vandag steeds worstel.
O Here, ons verstaan nie u weë met mense nie. Tog sal ons U nie los nie. Amen
Carel Anthonissen