In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad (Spreuke1 2:15).
Baie mense se negatiewe kritiek op ander, ook op belangrike sake, is dikwels vol emosie en bravade.
Dit word baiekeer méér bepaal deur hulle eie persoonlike vooroordeel as deur ‘n deeglike kennisname en nugtere beoordeling van ‘n saak. So ‘n proses van deeglike kennisname is dikwels die sleutel tot nuwe nadenke en verandering.
Maar wie is tot so ‘n eerlike selfondersoek en verandering in staat?
Die ervaring leer dat die meerderheid van mense wanneer dit kom by hulle eie vooroordele en standpunte, dikwels soos ‘n plaat is wat vasgehaak het. En hoe jy ook al probeer – niemand kry jou geroer of van jou deuntjie af nie.
Hierdie beheptheid met jou eie vooroordele en standpunte sonder die vermoë of bereidheid om te leer en te verander, is nie so onskuldig nie. Behalwe dat dit ander kan beledig, seermaak en benadeel, verraai dit ‘n houding van selfingenome arrogansie wat baie ver van die evangelie verwyder is.
Een van my vriende noem dit die “arrogansie van ignoransie”, dit wil sê die hoogmoed van die onkunde.
Die Bybel noem dit sommer dwaasheid.
O Here, vergewe ons die hoogmoed en selfversekerdheid waarmee ons soms leef. Leer ons, maak ons oop en méér verdraagsaam teenoor ander. Amen
Carel Anthonissen