Ek moes luister terwyl U praat … (Job 42:3)
Die boek Job waarna ons die afgelope weke gekyk het, eindig op ‘n aangrypende toon.
Waar Job vroeër heftig met God gestry en getwis het, is daar skielik ‘n houding van groter inskiklikheid en aanvaarding.
Dit word allereers duidelik in die manier waarop Job as ‘t ware plekke ruil met God. Want tot vóór hierdie oomblik was God in die beskuldigdebank. Het Job God byna blindelings bestorm en met sy vrae probeer vaskeer.
Totdat dit tot hom begin deurdring het dat God se weë inderdaad hoër is as wat hy ooit sou kon peil. Ook dat God te midde van die felste lyding steeds by hom was. Steeds met hom bly praat het.
En dan buig Job met dié woorde: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. Ek moes luister terwyl U praat …” (Job 42:3-4).
Iemand beskryf hierdie ommekeer by Job soos volg: “Job lê op dié punt die rol van voortvarende leermeester af en word ‘n nederige leerling. Iemand wat nie langer opstandig aandring op antwoorde nie, maar bereid is om stil te word en te luister.”
En daarná eers te praat.
Miskien is dít ook die punt waar ons moet begin wanneer die vraagstukke van die lewe dreig om ons te oorweldig.
Spreek vandag weer Here, ek word nou stil en ek luister. Amen
Carel Anthonissen