Maar nou het ek U self gesien (Job 42:5).
Die klimaks van die Job verhaal is nie net wanneer hy in nederige berou voor God se almag en trou buig en nuut begin luister nie.
Nee, dit is wanneer hy uiteindelik self begin praat, wanneer hy sy eie unieke antwoord op God se moeite en gepraat met hom gee.
En wat ‘n aangrypende antwoord is dit nie – een waarin dit duidelik word wat dit beteken om regtig in God te glo.
Dan gaan dit nie meer daaroor dat jy allerlei oor God weet, hetsy deur boeke of ander mense se opinies of getuienisse nie. Nee, dan gaan dit daarom dat jy God persoonlik ontmoet en leer ken het.
Sodat jy soos Job kan uitroep: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” (Job 42: 5).
Om God te sien? Dit klink byna onmoontlik. Totdat ʼn mens onthou dat God vandag steeds op allerlei maniere – ook in die gestalte van ‘n welwillende medemens – na ons wil uitreik.
Ons moet alleen ons oë daarvoor oophou.
O Here, hoe sleg ken ons U nie. Help ons om U vandag te sien, al is dit net deur die liefde van ‘n wellewende medemens. Want Here, U is tog liefde. Amen
Carel Anthonissen