Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het (Job 42:10).
Die verrassende van Job se verhaal is dat God nie sy omstandighede begin verander wanneer hy aan die einde aangrypend bely dat hy God nou gesien het nie.
Nee, God begin hom seën wanneer hy vir sy dwase drie vriende begin bid, sodat God hulle kort daarna vergewe.
In hierdie amper onbenullige gegewe sit daar tog ‘n wonderlike waarheid.
Dit is dat ons belydenisse, hoe mooi en indrukwekkend hulle ook al mag wees, nie altyd genoeg is om ons wêreld, ja, ons eie lewe te verander nie. Nee, dit is eers wanneer ons daadwerklik vir ander begin sorg, al is dit dan net dat ons vir hulle voor God begin intree deur gebed, dat ons ontsnap aan ons eie selfbeheptheid.
En so ‘n voorbeeld word van hoe God mense kan verander. Hulle ook oorvloediglik kan seën.
Lees maar net weer Job 42:10-17.
Here, leer ons vandag weer die geheim van seën. Dat wie gee, soveel meer terug ontvang. Amen
Carel Anthonissen