Want net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus (2 Korinthiërs 1:5).
Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam (Galasiërs 6:17).
Die seuntjie van een van my goeie vriende moes ‘n paar jaar gelede na ‘n fratsongeluk ‘n groot breinoperasie ondergaan.
Vandag is die yslike letsel of litteken goed onder ‘n bos welige hare versteek.
Toe hy egter onlangs weer sy hare moes laat sny, kry hy hieroor onverwagse raad van sy eksentrieke, maar skerpsinnige haarkapper. Dit is dat hy nie sy litteken moet probeer verberg of wegsteek nie. Ja, selfs wanneer hy selfbewus daaroor voel, kan dit – aldus die haarkapper – ‘n bepaalde waarde hê om sy wond of letsel openlik en sigbaar te dra.
Want só herinner hy nie net mense aan die betrokke terugslag in sy lewe nie. Hy wys daarmee terselfdertyd hoe hy sy ongeluk onder moeilike omstandighede oorleef het.
Die haarkapper het ‘n punt beet.
Natuurlik soek ons nie mense wat hulle wonde vir persoonlike aandag, simpatie en gewin wil uitstal nie. Maar ons soek wel mense wat deur middel van hulle wonde en lyding openlik kan getuig hoe hulle, danksy die genade van God en die bystand van mense, hulle terugslae oorleef en positief verwerk het.
Net soos Paulus wat getuig dat die lyding van Christus in sy lewe, oftewel die littekens wat hy terwille van Christus dra (Gal 6:17), ‘n oorvloed van bemoediging meebring (2 Kor 1:5).
Here, help ons om nie verleë te wees met ons wonde en littekens nie, maar dit moedig te dra as ‘n teken van u genade wat ons daar déúr gehelp het. Amen
Carel Anthonissen