Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag (Psalm 37:5-6).
Onlangs reis ek saam met ‘n groep Dene op die voetspoor van oud-President Mandela deur ons land.
Ons besoek talle museums en historiese plekke. Ons word aangegryp deur die dade van mense wat onder uiters moeilike omstandighede bly stry het vir waarheid en geregtigheid. En só ‘n verskil aan die geskiedenis van ons land gemaak het.
En dit dikwels sonder dat hulle in hulle leeftyd die goeie vrug van hulle moedige optrede gesien of beleef het.
Na aanleiding hiervan, herinner ‘n Deense pastoor my aan ‘n boeiende aanhaling uit hulle eie teologiese tradisie. Dit lui:
“As jou hart eerlik brand vir dit wat waar en reg is, sal die geskiedenis dit mettertyd ook staaf dat jy nie verkeerd gedink of gehandel het nie.”
In ‘n tyd van groeiende onrus en ontevredenheid, bied hierdie aanhaling ‘n belangrike riglyn. Dit is dat ons altyd seker sal maak dat ons handelinge nie allereers deur selfsugtige motiewe, massahisterie of goedkoop opportunisme gedryf word nie, maar wel deur ‘n eerlike passie vir wat waar en reg is.
Alleen dán kan ons hoop dat die Here, én die geskiedenis, ons genadig sal wees.
Here, ons bid vandag vir ons land en sy mense. Hou ons tog eerlik in ons strewes na wat waar ek reg is. Amen
Carel Anthonissen