Op U, Here my God aan wie ek behoort, is my oë gerig … (Psalm 140:8)
In sy soeke om die verlore betekenis van ou Christelike woorde te herwin, skryf die Bybelkundige, Markus Borg, in sy boek “Speaking Christian” interessant oor die begrip God.
Vir hom – en hier sluit hy aan by die Joods-Christelike tradisie – wys die begrip God allereers heen na ‘n realiteit wat deur geen woord, taal of begrip beskryf of vasgevang kan word nie. Vandaar dan ook die verbod by Israel om beelde van God te maak, of selfs net God se heilige naam te noem.
Vir Israel was God geensins ‘n speelmaat nie.
Tog beteken dit nie vir Borg dat God hiermee tot ‘n onpersoonlike krag of entiteit verlaag word nie. In aansluiting by die Bybelse visie op God, laat Borg ruimte daarvoor dat God as ‘n persoonlike God gesien en veral aanbid kan word. Vir hom is God die reële en liefdevolle teenwoordigheid van die gans Andere.
As sodanig is God dan ook die Immerteenwoordige wat alles en almal deurdring, dra en beskerm. God in alles en in almal.
Of soos Willem Nicol dit eenmaal gestel het: “God is die vriendelike bodem waarin alles bestaan en floreer.”
Hierdie God, so glo ons, praat steeds vandag met ons.
Here, U is die Heilige voor wie ons vandag in eerbied buig. Maar U is ook ons Vader by wie ons vandag weer kan skuil. Amen
Carel Anthonissen