“Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word …” (Markus 12:38).
In ons teks vir die week, Markus 12:38-44, duik daar twee tipes mense, twee soorte karakters op.
Die een in die gestalte van ‘n vroom, swierige skrifgeleerde is opvallend – die ander, ‘n weduwee, meer obskuur. Tot vandag toe is albei hierdie tipes deel van ons samelewing. Ja, óns samelewing waar die kloof tussen ryk en arm, bevoorregtes en ontheemdes die grootste ter wêreld is.
Die skrifgeleerde is ‘n tipe wat ons maklik herken. Hy kom weliswaar uit ‘n ou wêreld, maar sý soort is onder ons, elke dag. Hy is die een met die afwyserige klere en blink skoene. Die een wat ingekruip is by die vernames en die magtiges.
Hy is die arrogante een wat áltyd in beheer moet bly. En wat áltyd beter weet. Wat neerkyk op ander en moeilik luister. Die een met die toegeskroeide gewete wat ander uitbuit en verneder – sonder dat hy dit selfs eers weet of agterkom. Die een wie se lewe geld en mag is. Selfs al bid hy en weet hy alles van God.
O, ons ken hulle. Hulle name verskyn daagliks in koerante. Ons wéét hoe hulle opereer, hoe hulle ons samelewing befoeter en ‘n slegte naam gee — hierdie moderne fariseërs wat die massas betower, maar hulle terselfdertyd ook indoen.
Maar laat ons versigtig en waaksaam wees. Hulle siekte skuil ook in óns bloed.
Here, bewaar ons vandag van die mentaliteit van die arrogante skrifgeleerde. Amen.
Carel Anthonissen