Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word (Spreuke 11:24).
‘n Heel ruk gelede woon ‘n vriend van my – ‘n oorsese akademikus – ‘n gesprek tussen vooraanstaande leiers in die veld van die geesteswetenskappe by.
Hy kom geskok en ontnugter daar weg.
Want, so vertel hy, die hele gesprek het basies net gehandel oor één saak: aftreedatums en wie wat sal kry as dié dag eendag aanbreek. Kortliks het alles gedraai om die sogenaamde byverdienstes of toegifte. En hoe jy moet beding om uiteindelik die maksimum te haal.
Saam daarmee was die nyd, vooroordeel en aggressie teenoor hulle wat al langer in dié buit deel, die sogenaamde bevoorregtes, opvallend en ontstellend.
Waaroor die geestewetenskappe wel essensieel gaan, naamlik om die menslike gees tot minder selfsug en groter mededeelsaamheid op te voed en te help ontwikkel, daarvan het bitter min tereg gekom.
Sjoe, dit is laat in die dag as selfs in sulke uitgelese kringe alles net om mag, selfverryking en persoonlike voordele draai.
Maar só diep het die gees van die skrifgeleerde reeds in ons samelewing ingekruip.
O Here, bewaar ons vandag weer van oormatige selfsug, van daardie beheptheid met dít wat ons kan bevoordeel, dikwels ten koste van die ander. Amen
Carel Anthonissen