En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus (Filippense 4:19).
‘n Goeie kollega en vriend vertel my verlede week hierdie mooi storie.
Van hoe sy oupa, wanneer hy mense geluk gewens het met hulle verjaardag, altyd gesê het: “Mag dit baie reën daar waar jou bokke wei.”
Wie goed luister, sal in dié woorde ‘n besonderse seënbede hoor – een wat die ander die goeie guns en seën van die Heer toewens. Daardie Heer wat beskik oor ons lewe en wat steeds elke dag voorsien.
In dié gelukwensing of seënbede, sit daar natuurlik ook ‘n opvallende stuk grootmoedigheid, ‘n gerypte vryheid wat vir ‘n oomblik van die eie behoefte wegkyk en ander alles wat goed en mooi is gun, selfs al het jy dit self nog nie ontvang nie.
Waarskynlik moet ‘n mens ouer en meer volwasse word om só onselfsugtig te leef, om te besef dat dit inderdaad saliger is om te gee en te gun as om te neem en te ontvang.
Feit is: Wie dít geleer het, en boonop waag om dit uit te leef — soos my vriend se oupa — is ‘n baie ryk mens.
Hy of sy weet van die oorvloedige rykdom in Christus (Fil 4:19).
Here, maak ons vandag grootmoedig om u seën ryklik met ander te deel. Amen
Carel Anthonissen