Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ou ordes kan verbygaan

Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word” (Markus 13:2).

Jesus se voorspelling in Markus 13:2 – wat deel is van ons teks vir die week – dat die tempel in Jerusalem klip vir klip afgebreek sal word, moes omtrent die dissipels se ore laat tuit het.

Duidelik het dit hulle diep ontstel.

Want in hulle oë, asook dié van die destydse samelewing, was die tempel en alles waarvoor dit gestaan het, permanent en onverwoesbaar. Die tempel was ‘n manjifieke gebou wat oor 35 akker – dit was bykans ‘n sesde van die destydse Jerusalem – gestrek het. Boonop het dit 47 jaar geduur om hierdie argitektoniese wonder op te rig.

Hoe durf ‘n mens dan suggereer dat dit vernietig kan word? Dat so ‘n gebou en veral die sosiale, politieke en godsdienstige orde of bestel wat daardeur gesimboliseer en gedra is, kan verdwyn? Dit was tog onmoontlik, ondenkbaar!

En tog, 70 jaar ná Christus, is hierdie grootste gebou vernietig. En het hierdie simboliese middelpunt tydelik uit Israel se lewe verdwyn.

Die geskiedenis van Jerusalem se tempel herinner ons aan die ontstellende waarheid dat géén sosiale, politieke of godsdienstige orde permanent is nie. Dat dit broos en menslik is. En dus kan verander, verdwyn of vervang word.

Vir sommige, met name die maghebbers, sal dit altyd slegte nuus wees. Vir ander weer, dien dié verhaal as ‘n teken van bevryding – die belofte van nuwe moontlikhede, van ‘n oorgang na sinvolle verandering.

Hierop behoort gelowiges altyd te hoop. Selfs hieraan mee te werk.

Here, ons raak senuweeagtig, selfs bang wanneer dinge om ons begin verander. Help ons om nie moed te verloor nie, maar getrou mee te werk aan die skep van ‘n mensliker bestel. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.