Jy is mooi, jou oë is duiwe agter jou sluier. Jou hare soos ‘n trop bokke wat teen die Gileadberge afkom (Hooglied 4:1).
Die afgelope week loop ek ‘n mooi aanhaling van Oscar Wilde oor liefde raak.
In dié aanhaling gaan dit oor die intiem en persoonlike aard van die liefde, ook oor die diepe verbintenis met ‘n medemens wat daarin opgesluit is – iets wat Wilde kennelik goed verstaan het.
Hoe anders sou hy dit so mooi kon raakvat? Luister net:
“You don’t love someone for their looks, or their clothes, or for their fancy car, but because they sing a song only you can hear.”
Onlangs lees ek weer hoe in Stalin se kommunistiese Rusland sulke persoonlike taal destyds verdag was. Oor hoe min ruimte daar onder sy bewind was vir mense om van hart tot hart te praat en te ontmoet. Om liedere te sing wat mense van mekaar kon hoor.
Alles het om die party en die party se onpersoonlike belange gedraai.
Ai, hoeveel armer sou ons verhoudings en ons samelewing nie wees as ons nie meer hierdie taal van die hart kan praat nie!
Nie langer, by wyse van spreke, liedere kan sing wat diep by die ander resoneer nie.
Here, gee ons vandag weer daardie taal en liedere waarmee ons mense se lewe kan verryk en verander. Amen
Carel Anthonissen