“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” (Johannes 18:35).
Die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, bly een van die fassinerende figure in die Bybel.
In ons teks vir die week, Johannes 18:33-37, is hy ironies genoeg, een van die eerstes wat vermoed het dat Jesus dalk ‘n koning kon wees. Vandaar sy vraag: “Is jý die koning van die Jode?”
Maar Pilatus bly neutraal, op ‘n afstand, onbetrokke. ʼn Mens kry selfs die indruk dat sy belangstelling in Jesus terloops en oppervlakkig was. Of op die meeste net beperk tot Jesus se sogenaamde oortreding. Asof hy nie werklik wou weet wie hierdie Jood was nie.
Voorop vir hom was sy eie oorlewing en status as goewerneur en regspleger. Hoe hy met so min skade as moontlik aan sy eie brose reputasie hierdie ongemaklike saak agter die rug kon kry.
En só mis hy die dieper geheim van hierdie man. Leef hy amper niksvermoedend verby aan die grootste kans van sy lewe.
Pilatus – dit moet ons weet – is maar een van baie wat vandag steeds die geleentheid om die Koning van konings beter te leer ken, laat verbygaan, of selfs blatant ignoreer.
Kan daar iets hartseerder met ‘n mens gebeur? Veral as ons die hele Bybel tot ons beskikking het om ons nader aan Jesus te bring?
O Here, U staan steeds vandag voor my met u liefde en u gebroke hart. Help my om nie daaraan verby te leef nie, maar U te ontdek as Koning – ook as Koning van my lewe. Amen
Carel Anthonissen