Nou het ons ‘n lewende hoop… (1 Petrus 1:3).
Nie almal wat aftree, weet hoe om hulle tyd en lewe sinvol in te rig nie.
Trouens, baie se lewe kom by aftrede skielik tot ‘n soort stilstand, ‘n abrupte einde. Met ‘n skok ontdek hulle dan dat daar geen verdere planne of vooruitsigte, geen interessante stokperdjie of durende belangstellings bestaan nie.
Al wat amper oorbly, is om op ‘n hoop gaan sit en die dood af te wag.
Onlangs ontmoet ek ‘n bekende skrywer wat in dié opsig ‘n beskamende uitsondering en voorbeeld is.
Hy is reeds oor 80, maar laat hom geensins deur die ouderdom terughou of kniehalter nie. Trouens, hy praat nog opgewonde oor nuwe werk wat hy beplan. Van vars stories en dramas wat nog geskryf moet word.
Wonderlik mooi druk hy sy voorneme of drome in dié verband uit. Hy beskryf dit as afsprake wat die werk nog met hom het. Afsprake wat om die draai in die toekoms op hom wag. Wat hy nie sal kan ontwyk nie. En waarna hy met groot entoesiasme steeds uitsien.
Is dit nie hoe gelowiges die einde van hulle lewe tegemoet behoort te gaan nie? Met die verwagting dat daar nog nuwe en opwindende afsprake op hulle wag? Afsprake met hulle werk, met nuwe vriende — en uiteindelik ook met hulle Skepper?
Die Bybel noem hierdie verwagting ‘n lewende hoop.
O Here, gee ons vandag weer daardie tintelende gevoel van nuwe verwagting. Bewaar ons van die ledigheid en die moedeloosheid. En hou ons hoopvol. Amen
Carel Anthonissen