Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is (Lukas 21:30).
Met die eerste oogopslag mag Lukas 21:25-36 – ons teks vir die week wat oploop na die eerste Sondag van Advent – ons ietwat teen die bors stuit.
Want Advent is tog ‘n tyd van nuwe hoop en verwagting, een waarin ‘n mens jouself tereg gereed mag maak om bly en getroos te wees.
En nou praat Jesus van sware tye wat om die draai wag (Luk 21:23). Van radeloosheid onder die volke (Luk 21:25), van spanning en vrees oor dinge wat rondom die wêreld gebeur (Luk 21:26). En van ‘n grootskaalse afstomping waar mense hulleself oorgee aan plesier en nie meer vir ander omgee nie (Luk 21:34).
Klink dit nie ontsettend bekend en naby nie?
En tog – en dít moet ons in hierdie adventstyd ook weer leer raaksien – is traumatiese gebeure soos hierdie dikwels die tekens van nuwe oorgange, van dramatiese, maar noodsaaklike veranderings. Ja, van ‘n nuwe somer wat aanbreek (Luk 21:30), van God se koninkryk wat naby gekom het (Luk 21:31).
En van God se mag en werk wat nog in óns tyd sigbaar kan word (Luk 21:32).
Dit is geen wonder dat Jesus sy dissipels – en vir ons – in sulke tye oproep om oplettend en waaksaam te leef nie (Luk 21:29,36).
En om nooit op te hou bid nie.
O Here, hoe goed om vandag weer te hoor dat ontstellende gebeure tekens daarvan kan wees dat U werk. Laat ons vandag opnuut daarop let. Amen.
Carel Anthonissen