Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk (Lukas 1:68).
Ons almal ken die ervaring van hoe ʼn mens by die herlees van ʼn boek of verhaal – een wat jy miskien jare vroeër gelees het – skielik nuwe perspektiewe of betekenisse daarin kan ontdek.
Sekere dele of frases is meteens opvallend – dit verras jou, ontroer jou en praat skielik nuut met jou, amper asof jy dit vir die eerste keer hoor of lees.
Advent is ʼn tyd waarin ons ons vir so ʼn ervaring moet oopstel. Met nuwe verwagting kan ons terugkeer na die verhale van Jesus se geboorte, van sy koms na ons aarde. En toelaat dit ons vars aangryp, ontroer, verander.
Neem die verhaal van Sagaria se lofsang in Lukas 1:67-79 – een van ons tekste vir hierdie week. Daaruit blyk dit dat Sagaria diep geraak en ontroer is. Sodat sy mond nie kon ophou om God se lof te besing nie.
Want sien, Sagaria het iets ontdek wat ons almal in hierdie dae opnuut kan weet en glo. Dit is dat die God van Jesus, die God van genadige ontferming (Luk 1:78), ons nog nooit vergeet of verlaat het nie. God onthou ons.
Lees dit weer. Hoor dit nuut. Laat dit insink: God wéét van ons! God onthou jóú!
Daarom het God aarde toe gekom. Daarom het hy ons in genade kom opsoek (Luk 1:68).
O Here, dat U van my weet, dat U my onthou, is te hoog vir my. Daarvoor kan ek U alleen loof. Amen.
Carel Anthonissen