In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ʼn maagd in Nasaret, ʼn dorp in Galilea (Lukas 1:26).
Dit val op hoeveel moeite Lukas in sy verhale van Jesus se geboorte doen om dit presies te dateer – om dit só in ʼn baie spesifieke tydsgewrig te plaas, met al die destydse sosiale en politieke aksies wat deel daarvan was.
Ons hoor dit in albei die verhale, eers in die aankondiging van Johannes se geboorte en daarna in die aankondiging van Jesus se geboorte (Luk 1:5-38).
Ons hoor dit baie pertinent in die verhaal oor die presiese tyd en plek van Jesus se geboorte (Luk 2:1-7). Hoor net: “In daardie tyd het keiser Augustus ʼn bevel uitgevaardig.” Dit het plaasgevind “toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië” (Luk 2:1-2).
Lukas doen dit onder meer om die waarheid by sy gehoor – en natuurlik by ons – in te skerp dat Jesus se geboorte eg was. Dat dit régtig gebeur het. Ja, wonderliker nog, dat God betyds was. God Self het op ʼn bepaalde uur en plek ons geskiedenis binnegekom om bý ons te wees.
Ja, bý ons te wees, ook waar ons vandag, in hierdie spesifieke omstandighede – hetsy goed of sleg – verkeer.
Dít bly die groot troos van Lukas se fyn gedateerde verhale.
Here, wat ʼn troos om te weet U het ons geskiedenis binnegekom om vandag weer Self, deur u Woord en Gees, innig by ons te wees. Amen.
Carel Anthonissen