Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het (Luk 1:46-48).
Dat God — aldus Lukas 1:67-79 — God se ontroue volk bly onthou en hulle nie gelos het nie, is reeds ‘n verrassende en aangrypende waarheid om te ontdek.
Maar dit gaan selfs verder.
God onthou en maak moeite, veral ook met hulle wat in die samelewing minder opval — die eenvoudiges, geringstes, miskendes, verontregtes, siekes en armes. Daardie skemerfigure wat op die rand van ons sosiale horison beweeg.
O, ons weet dit eintlik reeds! Maar het dit al werklik ingesink? Hierdie troosryke wete dat die God van Israel se hart nooit ophou bloei vir diesulkes nie? En dat Jesus se hele bediening dít voortdurend gedemonstreer en gestaaf het.
En nou vertel Lukas dieselfde: Hoe die eenvoudige Maria en die veragte skaapwagters deur God se engele opgesoek en gekies word om draers van die goeie boodskap te word (Luk 1:26-38, 46-55; Luk 2:8-20).
Pragtig verwoord Sara Miles hierdie waarheid: “God also and in particular remembers her people when everything is unadorned: in the desert, in the ruins, in the saddest and most violent cities, in the tackiest lonely shopping malls, in the womb of an unprepared mother.”
Waar jy jou ook al bevind, God het jou nie vergeet nie! Presies dáár waar jy vandag so hulpeloos en onwaardig voel, wil en kan God jou opnuut met sy liefde bereik en dien.
Dit mag jy maar weer glo!
O Here, soos Maria wil ons U alleen vandag loof omdat U in ons geringheid na ons bly omsien. Amen
Carel Anthonissen