Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is (Lukas 3:7-8).
Verbasend genoeg is Lukas 3:7-18 – oor Johannes die Doper se vreemde prediking – ook deel van dié week se tekste wat ons oproep tot blydskap.
Verbasend ja, want Johannes se woorde klink so vreugdeloos. So vol oordeel en verdoemenis. Dit praat wel van verlossing en vergifnis, suggereer selfs ‘n titseltjie vreugde (Luk 3:3-6). Maar dit dring allereers aan op bekering, verootmoediging en terugkeer.
Dit is om jou eie armoede te besef. Om voor God met leë hande te kom staan. En dan te vrá, presies soos die mense (Luk 3:10), tollenaars (Luk 3:12) en soldate (Luk 3:14) in hierdie gedeelte: “Meneer, wat moet ons doen?”
Tereg skryf die teoloog, Debie Thomas, hieroor: “What should we do? That is not a question people ask when things are going well. It’s the question we ask when we’ve come to the end of ourselves. When the received wisdom has failed, when our cherished defences are down, when our lives are splitting at the seams … when we’re weary, bored, disillusioned, or desperate.”
Maar dit is waar egte bekering begin. Ook waar die weg tot ware blyskap geleidelik begin oopgaan.
Dit is geen wonder dat die skare Johannes in groot getalle bly volg het nie, ondanks sy harde woorde (Luk 3:7-9).
Hulle het gewéét.
O Here, leer ons vandag opnuut die weg tot ware blydskap, ja, die weg van egte bekering.
Carel Anthonissen