En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie” (Lukas 3:13).
Op die verskillende groepe se vraag wat hulle te doen staan wanneer dinge te veel raak, die verveling té erg en die vreugde minder, is Johannes se antwoord in Lukas 3:10-14 tog verbasend.
Want hy roep hulle nie allereers op tot een of ander buitengewone daad of optrede nie.
Soos dat hulle huis en familie moet verlaat nie. Of iewers ver weg sendingwerk gaan doen nie. Of hulle kultuur sal prysgee en in die woestyn by hom kom bly nie.
Nee, hy stuur hulle terug huis toe, werk toe – terug na die gewone, die bekende, die vertroude. Om dáár anders te gaan leef: regverdiger, toegewyder, eerliker, en meer vrugbaar.
Een teoloog parafraseer Johannes se woorde só:
“Go home to your families, your neigbours, your vocations, your colleagues. Stop fleeing … Inhabit the stuff of your life as deeply and as generously as you can … Inhabit your life, no matter how plain, how obscure, how unglamorous. Why? Because the holy ground that matters most is the ground beneath your feet.”
Die vreugde van God se koninkryk is inderdaad nader en selfs dieper as wat ons party dae vermoed.
O Here, leer ons vandag weer om ons vreugde in die gewone dinge te soek. Amen
Carel Anthonissen