En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5).
Die afgelope naweek handel ‘n stil dag op Stellenbosch oor die boeiende tema: Ons toekoms – donkerte of hoop?
In dié verband word die deelnemers gevra om hulle gevoelens eerlik te konfronteer en neer te skryf.
Allerlei boeiende gedagtes en perspektiewe kom na vore.
Almal erken dat die toekoms in baie opsigte onseker en selfs donker is. Ook dat daar talle dinge is wat ‘n mens met wanhoop, frustrasie en selfs woede kan vul. Daar word egter saamgestem dat gelowiges nooit té lank hierby moet vertoef nie. Of erger nog, daarin moet vasval nie.
Want, só herinner die groep mekaar, ons leef steeds onder die belofte dat die God van Jesus Heer van die geskiedenis is. Dat daarom geen haar van ons hoof sal val sonder God se wete nie. En dat alles, ook die donker dinge, uiteindelik ten goede kán en sál meewerk.
Wie dít glo, kan en moet vandag weer doelbewus kies om hoopvol te gaan lewe.
Want die hoop, so herinner Paulus ons (Rom 5:5), beskaam nooit nie.
O Here, dankie dat U in beheer van alles is. Gee my daarom vandag weer die moed om te kies vir hoop. Amen
Carel Anthonissen