Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding (Jesaja 12:3).
In ‘n mooi meditasie wys die teoloog, Okke Jager, ons tereg daarop hoe broos en onseker menslike geluk en blydskap gewoonlik is.
Ook hoe moeilik dit is om hierdie oomblikke van geluk en blydskap vas te hou of selfs te herhaal. In dié verband spreek hy dan ‘n troosvolle woord.
Dit is dat ons moet leer dat Iemand anders lankal reeds vir ons die geluk en vreugde verwerf het en vashou. Jesus, deur sy koms na ons aarde, het dit vir ons gedoen. Hy voorsien fonteine van redding (Jes 12:3).
Sodat ons vir ons geluk alleen naby Hom moet bly. Hy wat die ware fontein van redding is.
Bly daar enige iets anders oor vir ons om te doen? Só vra Jager ten slotte. Waarop sy antwoord dan aangrypend lui: “Ja, wees net gelukkig. Domweg gelukkig.”
Mag die boodskap van Kersfees ons vanjaar opnuut met blydskap uit hierdie fontein van redding laat skep.
Hierdie onuitputlike bron van geluk en vreugde.
O, dat U na ons gekom het, Here, bly ons grootste geluk en vreugde. Amen
Carel Anthonissen