Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my … (Psalm 116:10).
‘n Vriend van my het altyd smalend daarna verwys dat daar tussen die ou en die nuwe jaar net ‘n Desembervakansie is.
Hy is natuurlik reg – want selfs al betree jy die nuwe jaar met blink oë, die skaduwee van die ou jaar met al sy sorge en bekommernis is altyd kort op jou hakke.
En tog kan ‘n mens dit (gelukkig) ook nie ontken nie: die nuwe jaar suggereer, ja, bring selfs, ten minste vir sommiges, ‘n nuwe begin, vars kanse en ander moontlikhede.
Soos hulle wat vroeg in Januarie met ‘n nuwe werk kan begin. Of ‘n nuwe huis of woonplek gaan betrek. Of die gevoel het dat dit miskien nóú die kans is om my muwwe kamer ‘n slag ordentlik reg te pak. Of belangriker nog, my deurmekaar lewe in orde te kry, die geloof in God te bly koester (Ps 116:10).
Ja, selfs al gaan ons 2016 binne met ‘n hele vrag persoonlike en sosiale probleme steeds by ons, bly die begin van ‘n nuwe jaar tog altyd ook ‘n uitnodiging tot reoriëntasie, tot nuwe besinning oor die stand en betekenis van ons lewe. Ook oor die aard van ons spesifieke taak en roeping in hierdie lewe.
As die aanvang van ‘n nuwe jaar ons hierby kan uitbring, het ons nie sleg begin nie.
O Here, U gun ons telkens nuwe kanse, selfs ‘n nuwe jaar om voor te begin, om ons lewe opnuut voor U te bring. Dankie daarvoor. En Here, gee ons die moed daartoe. Amen
Carel Anthonissen